|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
3.02.2010 Feesmaand gedemp as gevolg van swak verbruikersvertroue
DESEMBERMAAND, di e maand waartydens verbruikers gewoonlik die meeste bestee, het nog ’n afname in verbruikersvertroue gesien op beide ’n maandelikse en kwartaallikse grondslag.
Volgens die IJG sakeklimaatmonitor vir Desember 2009 het die indeks wat reeds in November gedaal het, sy afwaartse spiraal in die feesmaand voortgesit. Die sakeklimaatindeks is luidens die verslag besig om in die regte rigting te beweeg, maar die effense verbetering sal egter nie volhoubaar wees solank die verbruikersvertroue bevraagteken word nie. Die swak verbruikersvertroue het ook ’n negatiewe invloed op die sakevertroue en die verbruikersindeks het dienooreenkomstig met 2.3 basispunte gedaal. Die indeks het gedurende Desember met een basispunt verbeter, maar die effense herstel is egter grootliks statisties van aard as gevolg van die lae Novemberbasis. Stygende oliepryse en dalende voertuigverkope dra hoofsaaklik by tot die lae verbruikersvertroue wat tans op 88 basispunte staan. Die beleggingsindeks het egter met 1.2 basispunte gestyg. Beleggings het egter korttermyn van aard gebly as gevolg van die swak verbruikersvertroue. Besighede gaan voort om nuwe maatskappye te registreer en om geld te leen. Dit wil voorkom of besighede die goeie rentekoerse tot hul voordeel gebruik. Ooreenstemmend het die krediet wat aan besighede uitgereik word met 11 persent die jaar gestyg en die aantal nuut geregistreerde besighede het die jaar met 17 persent toegeneem. Die uitvoerindeks het met 1.8 basispunte gestyg gedurende Desembermaand, al het die mynnywerheid se uitvoerinkomste gedurende die jaar met 17 persent gedaal. Die globale ekonomie toon egter voortdurend tekens van herstel en die plaaslike leidende aanwyser is nie ’n uitsondering hierop nie, met ’n styging van 0.9 basispunte gedurende Desember ná dit met 25 basispunte in November geval het. |