|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
31.08.2010 Direksies van twee groot rolspelers gekies![]() Die nuwe direksie van Meatco is gister aangewys. Dit is mnr. Ripanda Meroro, mnr. Arne Gressmann, me. Sophy Kasheeta, mnr. Martin Hilbert en me. Paulina Gomusab. Die Minister van Landbou, Water en Bosbou, mnr. John Mutorwa, het as die tydelike voorsitter gedien tot tyd en wyl die direksielede me. Clara Bohitile as die nuwe voorsitter aangewys het.
DRINGENDE projekte wat eers afgehandel moet word, het veroorsaak dat die direksie van NamWater vir die volgende vyf maande onveranderd gaan bly. Die Minister van Landbou, Water en Bosbou, mnr. John Mutorwa, het die aankondiging gemaak toe hy die nuwe direksies van NamWater en Meatco aangewys het.
Die Minister het gesê hy het hom op die wet beroep wat die aanstelling van NamWater se direksie voorskryf om te verseker dat die raad voorlopig eers onveranderd gelaat sal word. “NamWater se raad van direkteure is in die proses om die instansie se prestasiekontrak met die Ministerie af te handel. Die proses is reeds baie naby aan klaar en ’n onderbreking in die werksvloei van die direksie sal nie in die stadium raadsaam wees nie.” Mnr. Mutorwa het gesê die NamWater-raad is ook ver gevorder met kritieke punte in die voorsiening van water aan veral die nuwe mynprojekte in die woestyn. Die raad het ingestem om die projekte tot by die finale afhandeling deur te sien en volgens mnr. Mutorwa gaan die direksie tot aan die einde van Januarie aanstaande jaar in hul posisies dien. ![]() Lede van die direksie van NamWater met hul aanstellingsertifikate saam met die Minister van Landbou, Water en Bosbou, mnr. John Mutorwa. Mnre. Abraham Nehemia, Clement Daniels en Markus von Jeney was teenwoordig om hul aanstellingsertifikate in ontvangs te neem. Me. Wilhencia /Uiras en mnr. Moses Shakela het verskoning aangebied. Mee. Sophy Kasheeta, Paulina Gomusab, mnre. Ripanda Meroro, Martin Hilbert, me. Clara Bohitile en mnr. Arne Gressmann is tot raadslede verkies en in die teenwoordigheid van die Minister moes die pas verkose direksielede ’n nuwe voorsitter kies. Na ’n koukussessie van sowat tien minute het die nuwe direksielede me. Clara Bohitile aangewys om vir die volgende drie jaar as voorsitter te dien. Mnr. Mutorwa het uitgewys dat die nuwe direksies steeds ’n mate van deurlopendheid geniet en die vertroue uitgespreek dat die persone hulle goed van hul taak sal kwyt. “Dit het al in die verlede gebeur dat sekere lede wat uit die geledere van sekere organisasies tot direksielede verkies is, net op een enkele aspek gekonsentreer het. Ek wil die nuwe direksielede aanraai om eers na die groter prentjie te kyk en om vraagstukke met regverdigheid te benader.” Die Minister het voorts daarop gewys dat hy meen die regte persone is in die regte posisies aangewys en dat hy met trots aan die Kabinet verslag kan doen oor die twee maatskappye onder die beheer van die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou. |