
Die besturende direkteur van Standard Bank Namibia, mnr. Mpumzi Pupuma (middel) en mnr. Jaco Burger (regs), die hoof van korporatiewe beleggings en bankwese by die bank, oorhandig van die handtasse en sakke ter ondersteuning van die Suider-Afrikaanse Samewerkingorganisasie vir Streekpolisiehowe (SARPCO) se algemene jaarvergadering, aan generaalmajoor James Tjivikua van die Namibiese polisie.
MET die Suider -Af r ikaanse Samewerkingorganisasie vir Streekpolisiehowe (SARPCO) se algemene jaarvergadering wat vanjaar in Namibië plaasvind, het Standard Bank Namibia materiële ondersteuning ter waarde van N$45 000 aan die Namibiese polisie (Nampol) geskenk.
Dit sluit in handtasse, sakke en baniere vir die vergadering wat in Augustus sal plaasvind en waar verteenwoordigers van polisiedienste van Angola, Botswana, Lesotho, Malawi, Mauritius, Mosambiek, Suid-Afrika, Swaziland, Tanzanië, Zambië, Zimbabwe en Namibië byeenkom.
Die besturende direkteur van Standard Bank Namibia, mnr. Mpumzi Pupuma, sê dat die bank verlede jaar ‘n getuie van die fantastiese oorgrens-samewerking tussen polisiedienste was, toe polisie van Namibië en Botswana kragte saamgespan het en diewe suksesvol vasgetrek het wat Standard Bank-takke geteiken het. “Die bank erken die belangrikheid van die polisie nie net in Namibië nie, maar ook oor die land se grense.”
Verder sê mnr. Pupuma dat die bank onlangs deur middel van koerantberigte verneem het dat Nampol ‘n behoefte aan geld het. Die feit dat die polisiemag nie oor genoeg opgeleide polisiebeamptes beskik nie, lae salarisse ontvang, oor onvoldoende akkomodasie, kantoorruimte en aanhoudingselle beskik en ‘n tekort aan vervoer ondervind, plaas ‘n demper op die mag se werksaamhede.
“Ons sal voortgaan om met instellings soos Nampol saam te werk om te verseker dat hulle in staat is om hul werk uit te voer om sodoende tot ‘n veilige omgewing vir Namibiërs en mede-Afrikaners by te dra,” het mnr. Pupuma gesê. Generaal-majoor James Tjivikua het namens die polisie sy dank vir die ondersteuning uitgespreek en gesê dat nie net Nampol daarby sal baat nie, maar ook polisiedienste in die SAOG-streek. Hy het die hoop uitgespreek dat ander maatskappye Standard Bank se voorbeeld sal volg en by die stryd teen misdaad sal aansluit.