Sterrekykers staar weer na hemelruim

Sterrekykers kan solank hul teleskope uithaal en afstof vir die sewende suidelike sterrevergadering (SSFT) wat vanjaar vanaf 5 tot 7 Julie op Otjiwa Lodge, net buite Otjiwarongo, plaasvind.
Behalwe dat belangstellendes hulle aan die Namibiese sterreruim kan verkyk, sal interessante en opvoedkundige praatjies oor astronomie ook aangebied word.
Die lodge is 35 km suid van Otjiwarongo op die B1-pad geleë en vanjaar word ten minste 15 besoekers uit Duitsland op die lodge verwag. Elk van die besoekers is 'n kenner op die gebied van astronomie en bereid om hulle kennis met Namibiërs te deel. Die tema is “Wat is daar te siene in die sterrehemel gedurende daardie spesifieke nag?”.
Die bekende astronoom en redakteur van die tydskrif Sterne und Weltraum, dr. Uwe Reichert sal ook vanjaar die samekoms bywoon. Dr. Reichert is verantwoordelik vir die teks en uitlê van die sterre-atlas Atlas der Sternbilder wat vir die eerste keer in 1997 verskyn het. Dié boek is in baie opsigte opspraakwekkend, omdat die gesamentlike sterrehemel van die wêreld vir die heel eerste keer met pragtige foto's daarin afgebeeld word. Verskeie van dié foto's is in Namibië geneem.
Deskundiges wat al die vorige jare die byeenkoms bygewoon het, sal ook hierdie jaar op Otjiwa wees, soos prof. Rainer Hopfer, 'n rekenaarkenner, asook mnre. Wolf-Peter Hartmann en Martin Birmaier. Birkmaier is die eienaar van Intercon Spacetec in Augsburg, Duitsland, 'n sakeonderneming wat homself op die verkope en die bou van teleskope en ander spesiale sterrekundige toebehore toespits.
Die Vrydag is die aankoms op Otjiwa gedurende die vroeë agtermiddag. Almal wat 'n eie teleskoop besit, word hartlik genooi om dit saam te bring. Op die damwal van die plaas is daar spesiaal 'n terrein vir waarnemings doeleindes gereserveer, waar die verskillende teleskope opgestel kan word. Persone word daaraan
herinner om hul rooi flitslig of koplamp saam te bring. Die gebruik van wit ligbronne sal onder geen omstandighede op die terrein toegelaat word nie.
Aandete sal om 17:00 bedien word en teen 18:45 wanneer dit al pikdonker is, kan met die waarneming van planete, newels en sterrestelsels begin word.
Mercurius, Venus en Saturnus sal gedurende die twee nagte op Otjiwa te siene wees.
Al die teleskope sal vir al die deelnemers van die byeenkoms gratis toeganklik wees.
Eweneens sal al die deskundiges met die hantering en instelling van die spesifieke apparate behulpsaam wees en ook inligting omtrent die voorwerp verstrek wat op daardie oomblik deur die teleskoop waargeneem word.
Hopfer sal eerstehandse inligting oor die neem van foto's verstrek. Mense word genooi om hul eie kameratoerusting na die byeenkoms en ook na die nagtelike waarnemingsessies te bring, sodat Hopfer hulle van die begin af met raad en daad kan bystaan.
Belangstellendes kan die Saterdag ook 'n wildrit geniet. Deelnemers moet daarop let die bespreking van 'n plek op so 'n toer, sowel as die betaling van onkoste verbonde daaraan, deur elke deelnemer by ontvangs gereël moet word. Behalwe dat belangstellendes hulle aan die Namibiese sterreruim kan verkyk, sal interessante en opvoedkundige praatjies oor astronomie ook aangebied word.
'n Lesing sal aangebied word oor afstandbeheerde teleskope en die gebruik van die rekenaar in die astronomie
Deelnemers word gewaarsku dat nagtemperature gedurende die winter ver benede vriespunt kan daal en hulle word dus aangeraai om genoeg warm klere saam te bring, aangesien Otjiwa berug is vir verskriklike koue winternagte!
Aangesien die terrein vir die waarnemingsdoeleindes om die uur deur sekuriteitspersoneel bewaak word, sal die teleskope wat daar opgestel word veilig wees. Dit sal dus vir die eienaar daarvan nie nodig wees om die apparaat elke aand na die sessie om veiligheidsredes te verwyder nie.
Sondag na ontbyt vertrek almal huis toe en/of na hul volgende bestemming.

Kategorie: