Klara deur Mariël le Roux

Dis waar dit geëindig het, toe die trekker se wiel Klara se pa papgedruk het. Toe hulle ná haar pa se dood van Boplaas moes weg en in die wit lokasie gaan woon, toe was alles verby.
En dit was nog lank voordat al agt die kinders gebore is wat die agt knope in Klara se naelstring voorspel het. Maar verby was die tyd dat Klara die dae onder die wilgerboom op die damwal langs die lusernland kon omdroom, of met rooi koeldrank en koekies voor die stoof kon sit en luister na Polla se stories oor waar die bul vir oom Slap Soois geskop het.
Boplaas het hulle afgeskud.
Of so het Klara gedink. Maar die waarheid is dat Boplaas nie klaar was met haar nie. Haar susters kon wegkom - Leen met haar oneerbiedigheid en Martjie deur met 'n halwe Duitser te trou en land uit te vlug - maar nie sy nie. Iemand moes omsien na Ma wie se kop heeltemal uitgehaak het, en iemand moes help om Ma se fratskind, Henk, deur matriek te sien en daarby moes Klara ook nog haar eie geleerdheid kry.
Eers toe die ding met Dries, Boplaas se erfgenaam op die rotse loop, was dit asof Klara haar kon losmaak van haar verlede. Maar dit is juis toe sy uiteindelik weggaan dat sy agterkom hoe onlosmaaklik sy verstrengel is in daardie plaas en sy mense.
Klara is 'n verhaal met 'n onweerstaanbare aardsheid. Snaaks en hartverskeurend. Dis nie aldag dat mens jou so kan verlustig in die vreemde draaie wat die lewe gooi nie.
Mariël le Roux is op 1 Oktober 1947 op die plaas Houmoed naby Worcester gebore. Sy matrikuleer in 1964 aan die Hoër Meisieskool Worcester. Die ma van vier het haar loopbaan as dosent in verpleegkunde aan onder meer die Universiteite van Wes-Kaapland en Stellenbosch beoefen. Ná haar aftrede skryf, lees en reis sy graag. Sy en haar man Jean woon op Hermanus.
Wilhelmina - kampkind op Java, haar debuutroman het by Protea verskyn en uitstekende reaksie by die publiek uitgelok. Dit is in Nederlands vertaal as Sterretjie en het reeds herdrukke beleef. In 2010 wen haar roman Die naamlose die tweede prys in die Sanlam-Tafelberg Romanwedstryd. Hiervan is meer as 5 000 eksemplare verkoop.
Die boek (ISBN: 978-0-624-05888-5) word deur Tafelberg uitgegee en is ook aanlyn as 'n e-boek beskikbaar.

Kategorie: