|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang Kollig 9 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Videonuus Die onkruid waai op Nkurenkuru Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
19.04.2010 Suidelike Soedan – ’n nuwe Afrika-staat in wording?![]() Die graf van die legendariese Suid-Soedanese vryheids-vegter, dr. John Garang, in die John Garang Gedenkterrein in Juba, Suidelike Soedan. Die vertolking van die spreekwoord is dat as ’n mens ’n hond vet voer, hy jou nie sal volg nie. Maar as jy hom uithonger en hom ’n klein bietjie kos op ’n slag gee, bly hy onderdanig. Dit is meer as net ’n spreekwoord. Dit is ’n filosofie en ’n dogma wat Soedan vir die eerste 50 jaar van onafhanklikheid vir bykans vier dekades in twee bitter burgeroorloë tussen die noorde en die suide van die land gedompel het. Die oorsake van die konflik in Soedan is kompleks – ’n kombinasie van etniese groepe (die land het amper 600 stamme wat 400 tale en dialekte praat), geskille tussen nomadiese herderstamme en landbouers, aansprake op die ryk olievelde wat op die grens tussen Noord- en Suid-Soedan lê, en natuurlik godsdiens. Die noorde is hoofsaaklik Arabies en dus Moslem, terwyl die suide van die land hoofsaaklik óf Christene óf animiste is. Oor die jare het die Arabiere die suide probeer domineer deur die Christene van hul kultuur te ontneem. Arabies is as die enigste taal verklaar en alle amptelike dokumente (van nasionale identiteitsdokumente tot tersiêre kwalifikasies ) word slegs in Arabies uitgereik. Islamitiese sharia-wette is ook op die suide afgedwing en bitter min ontwikkeling het in die streek plaasgevind. Maar die honger hond het nie sy baas gevolg in die hoop om ’n brokkie kos te kry nie. Die eerste burgeroorlog het uitgebreek kort voordat die land onafhanklikheid van Brittanje en Egipte op 1 Januarie 1956 verkry het. Dit het vir 17 jaar gewoed totdat dit in 1972 beëindig is. In Soedan word vier klasse burgers aangetref. Moslems beklee die hoogste vlak in die samelewing en word gevolg deur Christene wat tot die Moslemgeloof oorgegaan het – maar selfs teen hulle word gediskrimineer. Christene is derde op die leer en die wat animistiese (tradisionele) gelowe volg, word heel laaste geplaas. Dit is teen die agtergrond van hierdie klassestelsel dat die legendariese leier van die Sudan People’s Liberation Army (SPLA), dr. John Garang, verklaar het dat die mense van Suidelike Soedan moet kies of hulle tweedeklas of derdeklas burgers wil wees. Die tweede burgeroorlog, aangevoer deur die SPLA, het in 1983 uitgebreek en is eers meer as twee dekades later beëindig met die ondertekening van die Omvattende Vredesooreenkoms in 2005. Meer as twee miljoen mense het in die tweede burgeroorlog gesterf, terwyl vier miljoen mense gevlug het – baie na naburige lande soos Uganda en Kenia. Teen Desember 2009 het slegs sowat twee miljoen vlugtelinge na hul tuistes teruggekeer – insluitende 300 000 wat hul weg per voet teruggevind het. Ingevolge die Omvattende Vredesooreenkoms word die suidelike deel van Soedan as ’n semi-onafhanklike streek bestuur, terwyl gesag op uitvoerende, nasionale en staatsvlak (Soedan het 25 state) volgens ’n magsdelingsformule bestuur word. Een van die hoofbepalings van die Omvattende Vredesooreenkoms is dat ’n referendum in Suidelike Soedan gehou moet word om oor die streek se toekoms te besluit. Die referendum vind op 9 Januarie 2011 plaas en alle aanduidings is dat die mense van Suidelike Soedan ten gunste van onafhanklikheid sal stem. As dit gebeur, sal John Garang se oproep op sy volgelinge vervul word: “My mense, moet nooit bang wees nie. Jul vasberadenheid sal julle tot die uiteindelike bestemming lei.” Afrika sal ’n nuwe staat bykry – wat die Afrika-Unie in ’n netelige posisie sal plaas omdat die grondwet van die unie en sy voorganger, die Organisasie vir Afrika-Eenheid (OAE), bepaal dat lidlande die koloniale grense sal eerbiedig. Maar dit is nie net die toekoms van Suidelike Soedan wat in die weegskaal is nie. Die inwoners van die olieryke streek van Abyei, wat op die betwiste grens tussen Noordelike en Suidelike Soedan lê, sal ook op 9 Januarie volgende jaar in ’n referendum moet besluit of die streek deel van Noordelike of Suidelike Soedan moet wees. En dan is daar die voortslepende burgeroorlog in Darfur – ’n streek wat uit drie state bestaan. Willie Olivier in Juba, Suidelike Soedan |