21.07.2008 Suid-Afrika ondersteun saak teen El-Basjhir
VREDE in Soedan sal nie ondermyn word as die Internasionale Strafhof pres. Omar el-Basjhir vervolg nie – dit sal geregtigheid na die mense van daardie land bring. Só het me. Hlengiwe Mkhize, Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland, aan Beeld gesê. Sy het verlede week die tien jaar-herdenking van die bekragtiging van Rome-statuut by die Menseregtekommissie (MRK) se kantore in Johannesburg bygewoon. Dié statuut het die totstandkoming van die strafhof verseker.
Me. Mkhize se uitspraak oor mnr. El-Basjhir se vervolging is strydig met die vrese van mnr. Aziz Pahad, adjunkminister van buitelandse sake. Hy het vroeër verlede week gesê dat die situasie in Soedan deur die strafhof se vervolging gedestabiliseer kan word.
Volgens adv. Fatou Bensouda, adjunk-aanklaer by die hof, sal mnr. El-Basjhir vervolg word vir die beplanning van volksmoord teen drie groepe in Darfoer en die gebruik van verkragting en moord as oorlogswapens teen sy eie mense.
“Ons het ’n goeie saak en ek glo ons sal die lasbrief vir (mnr.) El-Basjhir se arrestasie kry,” het sy gesê. Me. Mkhize glo vervolgings soos dié van mnr. El-Basjhir kan moorde en verkragtings vinniger stop as diplomatieke prosesse. “Dit is ’n mite dat ons moet kies tussen die vervolging en vrede. Albei is bereikbaar.
“Die hof versterk eintlik alle demokratiese prosesse en dit kan dit (vredesprosesse) nie ondermyn nie,” het sy gesê. Me. Oby Nwankwo, lid van die koalisie vir die hof, sê die enigste aspek wat aanklaers van die hof kniehalter, is hul beperkte magte om mense self aan te keer. Volgens die statuut moet lande se eie owerhede oortreders aan die hof uitlewer.
|