|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang Kollig 2 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Die onkruid waai op Nkurenkuru Videonuus Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
18.06.2010 SADC-tribunaal bult regspiere
IN twee nuwe uitsprake deur die SADC-tribunaal in Windhoek het die streekhof opnuut benadruk dat hy nie sal toelaat dat lidlande van die relatiewe jong ontwikkelingsgemeenskap of sy eie administrasie, sleutelregte van die individu misken nie.
Behalwe dat die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) gelas is om ’n sakeman uit Botswana, mnr. Bachenjeli Mosarwa, met rente te vergoed vir die gehuurde voorhaker en sleepwaens wat hy in 2006 in die oorloggeteisterde land verloor het, het ’n vyftal streekregters gelas dat SADC se Parlementêre Forum me. Bookie Monica Kethusegile-Juru moet uitbetaal vir die oorblywende deel van haar kontrak nadat sy in 2008 onregmatig afgedank is. N$100 000 vir morele skade is aan haar toegestaan. Mnr. Mosarwa, eienaar van Bach’s Transport, se eis teen die DRK beloop sowat N$20 miljoen. Hierbenewens moet die DRK ook vir sy regskoste opdok. Buiten vir die nagmerrie-kloof tussen Engels en Frans, die DRK se ampstaal, het mnr. Mosarwa in hofstukke aangevoer dat ’n regsman na wie die lidland se prokureur-generaal hom glo persoonlik verwys het, geld gevra het om regters en regsbeamptes om te koop. Sy weiering om dit te doen, het die aansoeker gesê, was ’n doodskoot vir sy saak. Ondanks die feit dat ’n regsagent vir die DRK in Julie verlede jaar die land op ’n tegniese punt voorlopig suksesvol teen ’n versoek vir ’n verstekvonnis verdedig het, het die land se regering daarna versuim om verdediging aan te teken. In Maart vanjaar het die respondent aangevoer dat die aansoeker nie ’n wettige regspersoon is nie en nie sy regsopsies in die DRK uitgeput het nie. Ook die eisbedrag, US$1,9 miljoen, is betwis. Volgens die respondent is die vragmotor en sleepwaens voor dit op ’n veiling van die hand gesit is, maar vir US$25 000 gewaardeer. Al die besware is deur die Tribunaal verwerp. Mnr. Mosarwa het later die voorhaker, maar nooit die sleepwaens teruggevind. Ook SADC se Parlementêre Forum is in me. Kethusegile- Juru se saak met ’n kostebevel gestraf. Nie net het die forum sy eie personeelreëls veronagsaam nie, maar volgens die streekhof ook die reg om jou saak sonder vooroordeel te stel. Me. Kethusegile-Juru se argument dat sy kon reken op die verlenging van haar kontrak, is egter verwerp omdat daar van die begin kommer was oor haar prestasie en gedrag. Die Tribunaal het voorgestel dat die forum nuwe dissiplinêre en appèlprosedures vir personeel van die aansoeker se personeelstatus instel. Sy was assistentkoördineer van die forum se leierskapsentrum voordat sy summier vir beweerde onbetaamlike gedrag in die pad gesteek is. SADC se streekhof in Windhoek hoop om met ’n groeiende hofrol groter finansiële steun te beding. Die Tribunaal sal volgens plan teen 2014 in totaal 48 personeellede hê teenoor vandag se 16 poste. Die Tribunaal se eerste nuusbrief sê ook dat uitsluitsel oor Zimbabwe se beweringe dat die regsliggaam nog nie behoorlik gefundeer is nie, hopelik gou gegee word. |