|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang Kollig 2 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Die onkruid waai op Nkurenkuru Videonuus Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
7.04.2010 Juba, stad van vele gesigte![]()
JUBA is warm, baie warm! Namibiërs ken nie hitte nie, nie hierdie hitte nie. Wanneer jy van die lugverkoelde vliegtuig afklim en die hitte jou na jou asem laat snak, dink jy eers dat dit die hitte van die vliegtuig se enjins is. Maar dan flits deur jou kop: “Die hel moet baie naby wees” en “helwarm” kry ‘n nuwe betekenis. Juba, die hoofstad van suidelike Sudan, lê in die verre suide van die land aan die oewers van die Nylrivier, Afrika se grootste rivier.
Die land was vir die eerste 50 jaar na onafhanklikwording vir amper vier dekades in twee burgeroorloë gewikkel en die gevolge daarvan en verwaarlosing deur die sentrale regering in Kartoem het sy merk op die suide van die land gelaat.
Sedert die omvattende vredesooreenkoms tussen die rebellegroepe in die suide en die Kartoem-regering in 2005 onderteken is, het Juba ‘n toevloei van personeel van nie-regeringsorganisasies, die Verenigde Nasies en sy agentskappe, asook sakelui van naburige lande ondervind.
Die bittere burgeroorlog was vir die mense van die suide ‘n stryd om oorlewing en daar is ‘n totale gebrek aan plaaslike inisiatief enbesigheidsin. Groot getalle burgers van Eritrea, Ethiopië, Uganda en Kenia het gevolglik die afgelope jaar of twee na Juba gestroom en domineer die ekonomie en die arbeidsmark in die formele sektor.
Die ekonomie word grootliks aangedryf deur die informele sektor en ja, hier kan jy alles kry – maar dit vat so ‘n bietjie soek en teen ‘n prys.
Die lewenskoste is hoog – ‘n pizza op die oewers van die Nyl kos sowat N$112 en ‘n baie basiese kamer in ‘n voorafvervaardigde eenheid sal jou sowat N$675 per aand uit die sak jaag. Moderne kommunikasietegnologie het reuseveranderinge in Juba gebring. Selfone is die enigste manier van kommunikasie omdat daar nie landlyne is nie, die internet is vinnig (3G) en DStv is in hotelle beskikbaar. Behalwe vir ‘n paar hoofstrate wat onlangs geteer is, is die strate almal gruispaaie wat wissel van redelik tot paaie wat amper net per viertrekvoertuig begaanbaar is.
As die reënseisoen begin, is baie van die paaie bykans onbegaanbaar – behalwe in ‘n viertrekvoertuig. Juba is ‘n stad van vele gesigte – die massas wat min het, die wat baie het en ‘n donker, ondergrondse wêreld van korrupsie, dwelmsmokkelary en prostitusie.
Vir die massas van Juba is dit ‘n daaglikse stryd om ‘n bestaan te voer, maar hulle is dit eens dat dit nou makliker is as gedurende die burgeroorlog. Dan is daar die wat het – besigheidslui, militêre offisiere en hooggeplaaste regeringsamptenare. Die nuutste modelle viertrekvoertuie is volop en die rykes bring die aande deur in kroeë en voer lang gesprekke op die nuutste model selfone – nie net een nie, maar baie het twee of drie.
Maar Juba het ook ‘n donker gesig. Die onstabiliteit van die burgeroorlog het ‘n vrugbare teelaarde vir dwelmsmokkelary en ‘n prostitusienetwerk met vrouens van naburige lande geskep.
Dit is ook ‘n toevlugsoord vir homoseksueles en lesbiërs wat by die hordes daarheen gaan. Dan is daar die vlugtelinge wat stadig besig is om na suidelike Soedan terug te keer. Hulle vertel hartseerverhale van families wat gedurende die burgeroorlog totaal uitgewis is. Baie vlugtelinge wat buite die land gebore is, kan nie hul moedertaal praat nie en word as buitelanders beskou – vreemdelinge in hul vaderland. Willie Olivier in Juba, suidelike Soedan |