|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang Kollig 2 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Die onkruid waai op Nkurenkuru Videonuus Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
22.07.2010 Elke karaat sal Zim help, sê DiamantkommissarisNAMIBIË is tevrede met die beperkte hertoelating tot die wêreld se diamantmarkte wat die land op die nipper by verlede week se internasionale beraad van die bedryf in Rusland vir sy geïsoleerde buurman help beding het.
“Natuurlik wou ons meer gehad het,” sê mnr. Kennedy Hamutenya, Namibië se diamantkommissaris. Hy is vol vertroue dat die deure van wêreldmarkte gou heeltemal vir Zimbabwiese diamante sal oopswaai. ’n Nuwe feitesending na Zimbabwe sal volgens mnr. Hamutenya reeds in die tweede week van Augustus plaasvind. ’n Ouditverslag oor die herkoms van diamante waarvoor die bedryf se wêreldbestuur in St. Petersburg ondanks ’n aanbeveling deur die Internasionale Vereniging van Diamantvervaardigers (IDMA) nié die groen lig wou gee nie, moet volgens die NamibieseDiamantkommissaris reeds vir die besoek op die tafel wees. Zimbabwe het in Rusland net toestemming gekry om diamante te verkoop wat sedert 28 Mei vanjaar deur Mbanda en Canadile in die omstrede Marange-velde gemyn is. Totale produksie sedert die datum, toe ’n toesighouer in Zimbabwe self aangestel is, beloop volgens mnr. Hamutenya sowat 450 000 karaat. Op die verhandeling van die 4,5 miljoen karaat wat voor dit gemyn is, geld daar steeds ’n verbod. Namibië en sy vervaardigersvereniging, DIAMAN, was ronduit ten gunste van die totale afskaffing van die verbod. Mnr. Hamutenya, wat volgens mnr. Burhan Seber, DIAMAN se voorsitter, ’n leeuestryd geveg het in beide Moskou en St. Petersburg, het sy teleurstelling erken met wat uiteindelik vermag is. “Persoonlik is ek net bly ons het ’n soort ooreenkoms bereik,” sê hy egter. “Dit was bitter moeilik. Minstens het hulle (Zimbabwe) iets gekry,” het hy benadruk. As dit van die VSA, Kanada en Australië afgehang het, sê mnr. Hamutenya, sou nie ’n enkele diamant uit Zimbabwe op die wêreldmark gekom het nie. “Niemand het presies gekry wat hulle wil hê nie,” sê die Diamantkommissaris. “Dit was ’n kwessie van gee én neem. “Jy kan nie net ’n groot stok swaai sonder ’n wortel nie.” I nkomste uit Zimbabwe se opgepotte diamantvoorrade is volgens mnr. Hamutenya nie net belangrik vir die buurland se sukkelende en ontwikkelingsgeknelde ekonomie nie, maar ook vir myne en die veiligheidsektor, wat die nakoming van die Kimberley-proses se riglyne moet afdwing. Om ’n veilige handelsatmosfeer te skep sonder smokkelary, kos geld, het hy benadruk. “Hulle myn,” het mnr. Hamutenya oor die Zimbabwiese bedryf bygevoeg. “Hulle moet tog hul werkers kan betaal en ander uitgawes delg.” |