21.07.2008

Deurbraak wink vir Zim

© Nampa en AFP
Mnr. Sydney Mufamadi (links) van Suid-Afrika saam met mnr. Jean Ping van die AU (middel) en die VN se spesiale gesant vir Zimbabwe, mnr. Haile Menkerios (regs), Vrydag na onderhandelinge met pres. Thabo Mbeki in Pretoria.
DIE leier van die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC), mnr. Morgan Tsvangirai, is in beginsel gereed om die voorlopige ooreenkoms wat as voorloper sal dien tot die volwaardige onderhandelings om ’n regering van nasionale eenheid, te teken. Mnr. Tsvangirai het Vrydagaand aan Media24 se Afrika-kantoor gesê hy verwelkom die daarstelling van die hoëvlak-verwysingsgroep wat pres. Thabo Mbeki en die strydende partye in die onderhandelings sal bystaan.

Sy verklaring kan beskou word as ’n deurbraak in die sloerende probleme rondom mnr. Mbeki se tot dusver alleenrol in die bemiddelingsproses. Dié baie senior verwysingsgroep bestaan uit die voorsitter van die Afrika-unie-kommissie, mnr. Jean Ping, die adjunk-sekretarisgeneraal van die Verenigde Nasies, mnr. Haile Menkerios, en die adjunkminister van buitelandse sake van Angola, mnr. George Chikoti, wat pres. Eduardo dos Santos verteenwoordig.

Dié aankondiging het gekom ná vier uur se samesprekings tussen Mbeki en die lede van die “verwysingsgroep.” Die verwysingsgroep en die amptenare wat hulle gaan aanstel, gaan tot die beskikking van mnr. Mbeki, asook die strydende partye in Zimbabwe wees, en sal tydens die verwagte onderhandelings teenwoordig wees. Pres. Mbeki bly egter die hoofbemiddelaar in die geskil.
© Nampa en AFP
Zimbabwiërs betoog Saterdag buite die konvensiesentrum in Durban waar die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se orgaan vir politiek, verdediging en veiligheid vir ‘n tweede dag oor die voortgesette politieke dooiepunt in Zimbabwe beraadslaag het.
Mnr. Sydney Mufamadi, die minister van plaaslike regering en mnr. Mbeki se hoof-fasiliteerder tussen die regerende Zanu-PF en die twee faksies van die MDC, het op ’n mediakonferensie saam met die verwysingsgroep laat blyk dat die partye na aan ’n ooreenkoms is. Die ooreenkoms oor ’n memorandum van verstandhouding (MV) is reeds op die onderhandelaarsvlak deur die partye goedgekeur en wag nou op die goedkeuring van die “hoofspelers,” pres. Robert Mugabe en die leiers van die MDCfaksies, mnre. Tsvangirai en Arthur Mutambara.

’n Woordvoerder van die MDC het Vrydag, voor die aanstelling van die verwysingsgroep, vanuit Harare gesê as dié groep wel formeel beslag kry, is “feitlik al die (hoofstroom)-MDC se besware teen die ondertekening van die MV uit die weg geruim.” Hy het bevestig dat die MV op die vlak van onderhandelaars reeds deur die die MDC goedgekeur is.

Die MV maak vir die reëls van die onderhandelings wat moet volg, asook die volledige agenda voorsiening. Dit bepaal ook dat die tydsverloop van die onderhandelings vir die daarstelling van ’n regering van nasionale eenheid wat twee jaar lank aan bewind sal wees, ’n “voorsiene twee weke lank” sal duur. Daar is verwag dat mnre. Mugabe, Tsvangirai en Mutambara die afgelope naweek reeds die MV sou teken en dat die volskaalse onderhandelings kort daarna sal volg.

André le Roux en Media24 -Afrika-kantoor