|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
8.02.2012 DBN keur N$154 miljoen se lenings goed![]()
DIE Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) het in die vierde kwartaal van 2011 lenings ter waarde van N$154,31 miljoen goedgekeur.
Van hierdie leningsbedrae is N$79,01 miljoen aan klein tot medium ondernemings (SME’s), N$45,3 miljoen aan die private sektor en N$30 miljoen aan die openbare sektor toegeken. Volgens mnr. Martin Inkumbi, die DBN se hoof van lenings, is die lenings wat vir SME’s goedgekeur is, die meeste vanweë die feit dat meer aansoeke vir oorbruggingsfinansiering ontvang is. ![]()
“DBN se oorbruggingsfasiliteite stel nuwe entrepreneurs wat die houers van veral tenders en kontrakte is, in staat om die speelveld op ’n gelyke voet te betree deur aan hulle geleenthede te bied om hul bategrondslag op te bou en sodoende hul ondernemings verder te laat groei,” het Ikumbi gesê.
Ingevolge sektorale verdeling van die lenings het onderwys 21% van die totale goedgekeurde lone uitgemaak, gevolg deur groothandel, kleinhandel en herstelwerk met 20,1% en finansiële bemiddeling met 19,4%. Die onderwyssektor het gebaat deur N$32 miljoen wat vir ’n groter terrein vir die Privaatskool Amazing Kids goedgekeur is. Toerisme het ’n hupstoot gekry deur die Ozohere Lodge en kampeerplek te finansier. Die betrokke lodge word deur ’n groep voorheen benadeelde vroue besit en bestuur. Die Opoto Mahungu Crusher projek, wat ook deur ’n vrou besit word, het finansiering vir die opgradering van die geriewe ontvang. Opoto bestaan reeds vir vyf jaar en vervaardig mahangu buite Ongwediva in die Oshana-streek. “Die DBN stel baie belang om mense en besighede te finansier wat met vervaardiging gemoeid is. Dit is deel van die bank se visie om waardetoevoeging te bevorder,” het Inkumbi op ’n nuuskonferensie gesê. Slegs 0,8 persent van die goedgekeurde N$154 miljoen se lenings vir die laaste kwartaal van 2011 is aan die vervaardigingsektor toegestaan. Die Khomasstreek het die oorgrote meerderheid ontvang (32,8%) gevolg deur nasionaal goedgekeurde projekte (19,6%) en projekte in Omusati. Volgens Inkumbi is verskeie pad- en opgraderingsprojekte tans in laasgenoemde streek aan die gang. Die DBN het sedert sy ontstaan lenings van meer as N$2,42 miljard goedgekeur en uitstaande lenings teen die einde van Desember het op N$1,34 miljard te staan gekom. Die wanbetalingskoers vir die betrokke boekjaar was 4,3%, wat op sowat N$57 miljoen te staan kom. Die DBN voer aan dat sy finansiering van projekte sedert 2004 bygedra het tot die skepping van 10 372 nuwe werkgeleenthede en dat 12 130 werkgeleenthede behou is en tydelike werk vir 10 981 mense geskep is. |